Ek kyk terug oor tagtig somers
en wonder of wat-ek-wou
en snags so van gedroom het
op my Parker-lys voltooi is:

glasie rooiwyn in Franschoek,
gekalkte aftreehuisie by die see,
Shakespeare rol, ‘n eie gedig,
Beethovenkonsert of twee

diepseeduik,  ’n reis oorsee,
‘n maat om saam ‘n plan te smee…
in die peperduur aftreeoord

dwaal geeste heen en weer –
waarom, wáárom hierdie spoor,
is ‘n onbekende stryd verloor?

tyd om te kom en tyd om te…oeps!
eendag het reeds verby gegaan!