‘n Sonnet

Uit hierdie ligte en wye herfstyd straal
‘n nuwe, namelose vreugde in my
dat ek verwilderd deur ‘n wereld dwaal
waar dinge daagliks hul vervulling kry;
die vleie staan weer soggens vol en wit
van waterblomme; en skemerings wit soos graan,
wat die rykheid en veel somerlug besit,
kom oor die geel boorde en stoppellande aan.
Waarom is die smart wat nou weer stilweg skryn,
en hierdie preweling van nuwe woorde,
die gemis? Is alle wording pyn,
en alle bid die tas van ons verstoorde
hart na nuwe name vir die leed
van die wondre uitbloei wat hy in hom weet?