Vergifnis met een traan
Met ‘n blik van jou siel
wat deur ‘n venster na myne kyk
is daar ewe skielik hierdie mistigheid
wat met ‘n gejaagdheid in my binneste
nie seker is of die druppel teen my venster
meng met my emosies nie…
ek hardloop met my hart
‘n resies met ‘n wit perd
wat gejaagd sonder saal en toom
losruk in my hart
ek gryp na die raam
van jou bruin-oog-siel
en ek sien die leemte van gister
die hartseer omvou,
in ‘n oogwink terugflits in myne
my vensters verdof
my groen-oog-venster
stort ‘n traan
die wildheid van die wit perd
ruk in my los
trane stroom oor my wange, gejaagd
in asemteue van ongekende emosie
ek vang die traan vas
sluit dit in my hart toe
rimpels van riviere loop oor my hart
jy het die venster van my siel aangeraak
die walle breek met een traan
die druppel wat land op my mond
is soet… suiwer soet
‘n storm uitgewoed na ‘n reënbui… skoongewas
bruin en groen glas meng
die kwas skilder ‘n groenbruin prentjie
van twee vensters
met een traan
(Antwanette van Tonder)