Artikel vir die aanbieders van digkompetisies

Die afgelope twee dekades het digkunskompetisies in Suid-Afrika orals kop uitgesteek – sommige bloot vir die pret en ander vir aansienlike pryse wat nie te versmaai is nie. Daar is voorheen geen noemenswaardige stof opgeskop oor die gehalte van die verskillende kompetisies as sulks nie omdat streng reëls en riglyne die digters almal ‘n behoorlike kans gebied het om gelyk weg te spring, byna soos atlete wat uit hulle blokke wegspring of resiesperde wat aan die “July”-wedloop deelneem.

Dit dan totdat kompetisies onder ‘n sekere skryfgroep op die internet hulle verskyning begin maak het. Die digters kon lukraak en op sorgvrye wyse aan die verskillende onderwerpe deelneem. Soos ‘n paar ander, het ek die spulletjie so van die kantlyn dopgehou, meer uit nuuskierigheid om te sien of daar enige noemenswaardige talent opduik, wat natuurlik hier en daar die geval blyk te wees.

Die eerste kompetisie het my behoorlik regop laat sit vir die verwagte bom om te bars, want die digters mog dalk geweet het waarvoor hulle hulle inlaat, maar die aanbieders van die kompetisie beslis nie! Die benadering was, om regslui se bewoording in sommige hofstukke te gebruik, “vaag en verwarrend”. Dit was ook nie lank nie, of klagtes van deelnemers en kommentaar van diegene met ‘n meer akademiese agtergrond, het begin instroom. Een opvallende kommentaar het die volgende bewoording bevat: “ek is jeukerig oor hierdie onderwerpe omdat dit so vaag gedoen was” en “ek voel baie sterk oor die benadering tot kompetisies wat êrens geraamwerk moet word as mense wil weet waarvoor hulle hulle inlaat”.

Sela! Maar hoe nou gemaak?

Doel van die kompetisie:

Voordat ‘n kompetisie aangebied word, moet die doel daarvan behoorlik deur die aanbieders deurdink word. Wil die beoordelaars (i) bloot net wins maak uit die inskrywingsgelde, (ii) die betrokke taal of dalk die (iii) digkuns bevorder, of (iv) opkomende digters aanspoor om die pen op te neem.

Afdelings:

‘n Mens kan nie die hele land se opkomende digters in een kraal jaag en daarna die uitnodiging rig om aan ‘n kompetisie deel te neem nie. Dit is onsinnig en ondeurdag. Daarom moet daar in die eerste plek gesorg word dat gevestigde digters (wat reeds gepubliseer het) van die amateurs (wat nog nie gepubliseer het nie) geskei word. En aangesien geen digter wat reeds gepubliseer het die moeite sal doen om aan ‘n kompetisie deel te neem nie, sal daar nie so ‘n afdeling soos ‘professionele digters” in die kompetisies aangebied word nie. Wat egter van belang is, is dat daar ‘n reël neergepen word wat duidelik stipuleer: slegs amateurs/opkomende digters wat nog nie gepubliseer het nie, mag inskryf.

In die tweede plek is dit nodig om digters op grond van hulle ervaring en/of akademiese blootstelling te skei. Dit is tog ongehoord dat ‘n Graad 2 leerder meeding teen ‘n persoon met ‘n graad in letterkunde nie (en ek kom later terug na die uitsondering wat die reël maak, naamlik die jong Mozarts en Bachs onder die digters).

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) het byvoorbeeld tans drie afdelings in hulle jaarlikse kompetisie: Die Ope-afdeling, die Hoërskool-afdeling, en die Laerskoolafdeling. Alhoewel dit steeds te wyd is, word daar gepoog om die inskrywings so in te deel dat die beoordelaars gedigte met mekaar kan vergelyk wat redelik op dieselfde akademiese vlak is. Wat goed werk, is dat enige persoon mag deelneem aan die ope-afdeling en juis omrede daar jongmense is wat wel die talent het om teen meer ervare digters deel te neem – ons noem hulle die jong Mozarts en die Bachs van die digkuns – jongmense wat die selfvertroue het om in die ope-afdeling mee te ding, wat weet hulle werk is goed genoeg daarvoor en wie se gedigte dié van hulle eie ouderdomsgroepe verbygegaan het.

Soos ons almal weet, behoor geen geestesproduk in afdelings verdeel te word nie. Soos Hart (Stemme uit die Suiderland V, 2010) dit in sy beoordelaarsnota verduidelik: “omdat daar aspekte is wat nie klinies-wetenskaplik hanteer kan word nie.” In kompetisies is dit egter noodsaaklik om afdelings te hê omdat daar aan sekere beginsels (soos oor die loop van jare deur literatuurteoretici bedink), voldoen moet word (Hart, 2010).

Voorgeskrewe taal:

In die derde plek moet die taal waarin gedig moet word, bepaal word. Alhoewel sekere beginsels in die digkuns in alle tale voorkom (bv, ritme, metrum rym, woordskoonheid, taalbedrewenheid, ens,) is dit vanselfsprekend nie presies dieselfde nie. Elke taal het sy eie taalreëls, en kan verskillende tale gevolglik nie saam beoordeel word nie (die appel en pere-idee).

Taal is dus naas die afdelings, ‘n belangrike faktor wat vooraf duidelik uitgepluis moet word. En dit is glad nie so maklik as wat dit van die oog af lyk nie. Veronderstel die kompetisie is in Afrikaans, wat doen die beoordelaars met die digter wat afwyk van die reël deur ‘n Latynse frase êrens in te werk? Veronderstel dit word toegelaat, wat van die digters wat ‘n hele strofe in Frans of Duits inwerk, of die een wat elke tweede woord in Engels skryf? Word hulle toegelaat om deel te neem of gediskwalifiseer? Waar word die lyn getrek sodat daar ná die prysuitdeling nie bitterheid kop uitsteek nie?

Taal moet duidelik in die reëls omskryf word en wat toelaatbaar is en wat nie. Persoonlik reken ek dat die betrokke taal op kompetisievlak suiwer moet wees. In Afrikaans dus die klassieke standaardtaal. Die digter wat nie die regte woorde in daardie taal kan vind nie, is nie werd om ‘n wenner te wees nie. Sou een of meer van die ander dialekte toegelaat word, moet dit in ‘n kategorie van hulle eie wees.

Kategorieë:

Dit bring ons dan in die vierde plek by die baie belangrike kategorieë . En so wyd soos die veld mag wees, so nou moet die verskillende kategorieë op kompetisiesvlak wees. Juis deur die digters se vryheid in te perk, begin die diamante tussen hulle skitter en kan die wenners identifiseer word. Ses kategorieë is al klaar te veel in een kompetisie. Die aanbieders kan liewers elke jaar nuwe kategorieë bedink om die kompetisie opwindend en interessant vir die deelnemers te maak. Kategorieë moet duidelik omlyn word, anders gaan nie net die deelnemers nie, maar ook die beoordelaars klei trap.

‘n Afdeling soos Algemeen is ongehoord, omdat dit die lui deelnemer die geleentheid bied om ou gedigte uit die laai te krap en in te skryf. Ook gee dit gedigte met vae tema’s of digters wat nie regtig weet waar hulle gedig inpas nie, kans om mee te ding. Hier moet die kaf van die koring geskei word. Op kompetisievlak word daar meesal ‘n spesifieke tema (liefde, natuur, die bonatuurlike, oorlog, ens.) voorgeskryf waaroor die gedig moet handel. Ander kere kan daar vereis word dat daar aan ’n bepaalde vorm (bv. sonnet, tanka, haikoe, ens.) voldoen moet word.

Die beoordelaars:

In die vyfde plek moet die beoordelaars, (sou daar meer as een wees) van ‘n skema voorsien word waarvolgens hulle punte moet toeken. En baie belangrik: slegs een beoordelaar moet ‘n kategorie beoordelaar, nie twee of meer beoordelaars nie, want wat vir die een goed is, is vir ‘n ander minder goed. Om te sorg dat die inskrywings regverdig beoordeel word, beoordeel die verskillende beoordelaars aan die hand van die voorgeskrewe skema’s elkeen hulle eie kategorie. So ‘n skema sal die puntetoekenning bepaal aan die hand van die kenmerke en vorms van die digkuns as kunsvorm.

Die aanbieders moet dus nie sommer enige persoon aanstel as beoordelaar nie. Op kompetisievlak is ‘n mens besig met ‘n spesifieke kunsvorm, naamlik die digkuns, daarom moet kenners, en nie leke nie, die beoordeling waarneem.

Sou daar ‘n algehele wenner ook aangewys word, moet daar in die sesde plek ‘n hoofbeoordelaar wees wat “triage” toepas ten einde te verseker dat die gehalte van die wengedigte in die verskillende kategorieë ooreenstem.

Ek wil die term “triage” verduidelik aan die hand van die mediese term wat afgelei is van die Franse werkwoord, trier. Dit beteken om van mekaar te skei, te verdeel, te sif, uit te kies, en verwys spesifiek na die proses waartydens een persoon die prioriteit van pasiënte se noodbehandeling (bv. na ‘n vliegramp) bepaal. Die betrokke persoon (bv. ‘n dokter, verpleegkundige, ambulansman, ens.) beweeg van pasiënt na pasiënt en merk met kleurkaarte watter pasiënte dadelik mediese aandag benodig het en wie ‘n bietjie kan weg. Dieselfde tegniek is nodig by die beoordeling van gedigte. Omdat beoordelaars as individue van mekaar verskil, is dit noodsaaklik dat die hoofbeoordelaar aan die einde van die beoordeling deur al die wengedigte gaan, “triage” toepas en die algehele wenner aanwys.

Die gedigte:

In die sewende plek wil ek iets sê oor die musikaliteit van ‘n gedig. Musikaliteit is sekerlik die mees onderskeidende kenmerk wat dit van prosa onderskei. Hart (verwysing hierbo) is van mening dat “Hoewel die skryf van gedigte ‘n tegniek is wat ‘n mens kan aanleer, is die saamstel, die “maak” van ‘n gedig nie net ‘n meganiese proses nie, maar is daar ook iets magies, of ‘n toweragtige geheimsinnigheid, wat ‘n rol speel. Vir die jong en onervare digter is dit dikwels ‘n stryd om nie onder ‘n rymdwang te sneuwel nie. Omdat ons graag glo dat ‘n gedig moet rym, gebeur dit soms dat ‘n gesoek na ‘n rymwoord, die inhoud of boodskap van ‘n gedig laat skade ly. Aan die ander kant kan die soek na ‘n rymwoord natuurlik ook lei tot die ontdek van ‘n verrassende rymvonds wat juis die gedig laat slaag.” Hart is ook van mening dat dit wat die gedig vir ons sê (en nie die digter nie), die eintlike toets is. Hy sê dat die digter se eie stem nie hoorbaar moet wees nie en dat die werklike “geslaagde” gedig die leser deel daarvan laat word.

In die agtste plek: Digters wat in vrye vorm dig, moet daarop ag slaan dat die vrye vorm nie so vry is as wat dit van die oog af lyk nie. Daar is steeds vereistes wat nagekom moet word. Die beoordelaars sal op die uitkyk wees vir die digters wat die kunsvorm in al sy fasette behoorlik beoefen.

Die wenners:

Wenners word bepaal aan die hand van hulle skepping/geestesproduk en hoe hartseer dit ookal mag wees: Meet sal daar gemeet word om ‘n wenner te bepaal!

Susan Grobler

www.dignet.co.za

Facebook: http://www.facebook.com/group.php?gid=126072467440279