(Want in sy diepste grond is die jeug
eensamer as die ouderdom.)

“Die ergste skrik is oor.
Ek het nooit kon droom
dat ek so sterk is nie.

Ek het geword wat ek woú wees
hier in Bergen-Belsen
waar geen ander mense is nie.

Vir jare het ek gewonder:
Wie behalwe ekself sal my skrywes lees?
Wie anders as ekself sal my troos?

Ek het my eie ideale, idees en planne gehad,
probeer om myself opnuut elke dag te verbeter,
sodat ek nie sou beland in my eie Agterhuis.

Ek moes baie keer lag om staande te bly
net om weer verskrik op te hou
omdat vrolikheid ‘n skande was.

Ek het my buitekant sorgvuldig
met vernisse bestryk, niemand het kon raai
mý binnekant ‘n kruidjie-roer-my-nie.

In Auschwitz het al my somberheid
en angs oorgegaan, want ek kon myself toe troos:
Jood of nie-Jood, ons almal gaan tog eindelik dood.

Bevryding het uiteindelik gekom.
Ek is lankal nie meer afhanklik van stemminge nie.
My goeie helfte voer in my alleenwees die botoon.

Ek buig nie saam met my liggaaam onder die slae
wat elke mens moet verduur nie. Ek voel sterk
asof ek baie kan dra. So vry en so jonk!

Ek kruip na die venster, ontduister,
snuif vir oulaas deur die kier
‘n laaste bietjie vars lug…

In hierdie ongedateerde oomblik
word ek wat ek altyd wou wees:
Lewend in my dagboeke.”