Kolonel, bon vivant van ons tyd,

Jy weet natuurlik dat,
as oorlog ooit uitbreek
in hierdie fokken land,

dan veg ons téén mekaar,
want Van Blerk, jy ken hom,
sý vlam smeul steeds diep in my.

Ek sing saam met my mense
om die kampvuur op Walvisbaai
en wag… ja, geduldig… veredelend,

op die Generaal, of dalk sy seun…
In khaki sal hy kom:
Die man met die roepstem van ons vaders

intiem verknoop in sy deurborende oë.
Sy hande vasgebrand om die loop
wat hy beter as enigiemand ken…

Ek weet jy dink ook hieraan
as jy saans oor die horison tuur:
Ja, sekuur sál ek mik na die een

vir wie my hart elke dag klop,
want ek staan dié kant,
en jy staan anderkant

‘n onbetwisbare Ystergordyn.

Gelanseer uit liefde,
Brigadier se Dogter.