My gediggies

soos klippies optel by die see
en uitsoek wat saam pas
soek ek al die woorde deur
en lê my heimweë vas

Sprinkaan

Weereens trek ons laer
en prop doringtakke
in elke gat

weereens versperrings
om ons in te sluit
in vrees

deur ysterdorings om my erf
ysterstawe voor venster en deur
kom hy steeds

die sprinkaan, swart gekamoefleer
deur duister nag verbloem
kom deur

om te roof en te kom vat
soos altyd nog
sy buit

‘n sprinkaan wat nie plant of saai
wag vir die oes van jou arbeid-
hy wag

en dan lafhartig slaan hy toe
op hulpelose prooi
en roof

bloedspore trap hy tot in die straat
en lag met wit tande oor die sak in sy hand
sy buit

bedwaas lag hy vir die Skepper wat sien
en as hy kon bykom sou hy Hom ook graag
beroof

Net jy

Of ek gaan en of ek bly,
of ek loop en of ek ry,
dis dieselfde net vir my-
jou beelt’nis bly my altyd by…

Snags rol ek steeds om en om,
drome gaan en drome kom.
Ek lê op my rug en ek lê op my sy,
jou beelt’nis bly my altyd by.

Moenie sê ek moet vergeet,
moenie sê ek het geweet,
‘n ander sal ek dalk weer kry –
want jou beelt’nis sal by my steeds bly…

Die winterwind kraak die dak se sink,
ek sien nie eers meer die sterre se blink!
As die eensaamheid my hier alleen kom kry,
bly jou beelt’nis nogsteeds by my!

Ek dink in die graf, in my ewige rus,
verwyderd van liefde, ver van ‘n kus,
geen blom in sig, nie ‘n enkele roos,
sal dit jou beelt’nis wees wat my gaan troos!

kwyning

‘n Arend van staal hang bewegingloos
in die sub-zero niks
wat swaarte nie ken
en sprei sy paneelvlerke
om te spied en te kaats,
te meet en te weeg –
die degenerasie van dít voor hom…
die enigste blou.

‘n Skrootwerf van uitgediende
en vergete, nagemaakte voëls
dryf dood verby
met kern harte wat lankal staan.

Stil… nee, klankloos in vakuum
en spookagtig
in diens van hulle wat asem het
en op skerms kyk
na hul vernietiging.

‘n Melkweg met ruimtelewe
kyk treurend toe
na haar gunsteling…
haar kind wat geseën was
met lewe, met suurstof, met water,
met bome en plante, diere en voëls,
wat sterf aan die hand van sy rentmeester…
DIE MENS!

Onder die suiderkruis

Die sterreboog het haar afgeëts
waar sy onder die suiderkruis staan –
eensaam, gebroke, met geboë hoof
in die effe-skyn van die effe-maan.

Hier het hulle jare gelede
as studente mekaar ontmoet
en heelwat later as man en vrou
hul plekkie weer kom groet.

Dan kyk sy deur die doringboomblare
waar die nagwind saggies deur ruis;
verbeel sy haar of ís daar ‘n ster
ekstra vannaand in die suiderkruis?

Gister het sy nog by sy siekbed gesit
toe hy vra dat sy die gordyn ooptrek…
Dààr het hy gelê en stil gestaar
na die sterreboog, op net een plek…

Sy oë was dof en sy glimlag swak
toe hy met bewende hand na die sterre wys –
na dít wat hulle kleinood was;
die glimlag van die suiderkruis…

Uurglas

‘n Ou man skuifel strompelend aan,
verwens die lig van die oggendson-
sy gedagtes weer die duisendste keer
by dít wat nie kon nie en dít wat kon.

Die pyn van seerkry en letsels wat sweer,
en die wond in sy hart wat al jare lank bloei-
Vanoggend weer wreed uit soete swym
het die lig van die dag hom wakker geskroei.

Haar oë moes hy groet en haar verlaat
om voort te gaan met sy eensaam bestaan-
Wanneer dan tog raak die uurglas leeg?
Wanneer dan tog kan hy na haar toe gaan?

Maar geduldig beur hy vorentoe,
dra sy las nog elke dag
met sy dowwe oë altyd gerig
op die een wat vir hom wag…

Kruisies

‘n Nuwe kruisie langs die pad.

‘n Krans van blomme het aan sy voet gelê.

Nuwe swart strepe oor die teer,

om duidelik en hard iets wreeds te se…

Onrus

Soos stormwater jaag die bloed deur my are-
klop in my ore, stol in my kop…
Gillende sirenes skeur deur die lug,
my hart begin wild in my borskas te skop.

Die blanke blaai wat voor my lê
soebat my om iets net te sê,
maar die stad se pols is te vinnig vir my,
ek wens tog net ek kon myself hier bevry.

Om na vrede te gaan, te sit en te skryf,
onder sagte bedwelming van die koer van ‘n duif,
in die koel gerustheid van die skadu van ‘n boom,
of meegevoer deur die kabbel van ‘n stroom…

Om my siel met ink op papier neer te lê,
vir myself te ontdek wat my hart wil sê,
my gemoed oop te vlek en te ontleed,
wat ek moet skryf sal ek dan alleen weet.

Sononder

Goudkringe straal om die bebloede son

wat sy dag se skof aan die maan oorgee.

Die wolkies vir oulaas word ingekleur

en wissel-kleurend voer die aandwind hul mee.

Die vars aroma van nareën se grond

hang swaar oor die soetgras se boog,

en die swart skelet van ‘n doringboom

rys swierig ten hemel omhoog.

Die aand se voëls in die dennelaan

kwetter en fladder en raas

in die laaste lig van die dag se son

om ‘n slaapplek te kry helaas.

‘n Hasie loer versigtig rond

wip haastig uit die gat,

die nag is hier, die kinders wag,

maar pappa is op pad…

Stadsnatuur

Op grys betongras sit ek nou

en kyk na stadsnatuur,

‘n gifgas-aandbries waai oor my

en plastiek blomme op die muur.

Die toeterskreeu is voëlgesang

en lorries duiwekoer,

ander mense is my apies

wat uit hul vensters loer.

‘n Besige rivier vloei vlak voor my

met geen enkel eend of vis;

‘n swart rivier met rasende goed

wat heeldag skarrel en nooit rus.

Hoog bo my is ‘n arend wat draai

met silwer vlerke en koolstofstrepe,

en oorkant die straat is die wilgerbome-

gebreekte ruite met gordynerepe.

As die son nou sak en ek sit en wag

vir kleure van die horison,

begin dit flikker van elke kant –

neon ligte wat oral blom.

Droëloop

Dor, gebarste skille klei
so ver die oog kan staar,
maar onder in die barre kors
word blommesaad bewaar.

Vir wanneer weer die reën sal kom
en flaminke pienk sal staan,
en nuwe lewe deur sal breek,
hul weg na bo sal baan.

Dan staan ek weer van voor af stom
en vra:”O, liewe Heer,
sal U nie ook my barre hart
met liefdesreën omkeer?”

Kalahari

Wag-‘n-bietjie staan op sy kreupelbeen,
tuur stil na die einder waar dwarrels draai –
misvormd deur golwe oor hittige sand
en stof van ‘n bloedige windjie wat waai.

Eensaam roep ‘n Jan Fiskaal
en sy stem verdwaal oor die vlaktes heen;
‘n Sonbesie gil sy ontsteltenis uit,
oor verwaaide polle wat sit en ween.

Die besembos leun daar, kromlyf geslaan
en bid dat die son onder gaan,
en die nag se dou helend afdaal
in die geel-goue glans van die maan.

Vrystaat Vlaktes

Soetgrasvlakte, rooisand vloer,
waar die eggo my stem weggooi,
waar die melkweg oopvou as die son gaan rus
en ‘n streep diamante oor my strooi-

Sag-dreunend laat die ploeë
die horison rooi-pienk gloei
en laat aroma van vars-diep sooie
oor opstal en rante vloei.

In belewenis van harmonie
met natuur waar ek gebore is,
is ek weer ‘n embrio
van Stofland wat die Vrystaat is…

Reën

Groot druppels dawer
soos hammerslae op sink,
val soos diamantsnoere
wat grond toe blink.

Maak gate en poele
in die poeierstof,
as die druppelstring
in die dooie sand plof.

Vraatsig opgesuig
in die aarde se kors,
versadig word nou
die stofsand se dors.

Die grond se pols
begin weer klop,
hy kry weer krag
en staan weer op

om lewe te gee
en skoonheid te bring,
die veld in te kleur
en te laat lag en sing!

Waterval

Die sproei deurweek my waar ek skuil,
agter watergordyn soos sagte glas;
vir sy dreun en raas het ek geen vrees,
hy is maar nog soos hy altyd was.

Miljoene diamante glinster in die son,
‘n dik kombers wat tuimel en gly –
ver-ver tot onder in die donker poel,
waar hul bots en draai en met rotse baklei

en mis opjaag en wolke maak
wat opkom soos uit Aladdin se lamp,
sonder dat ek daaroor vryf
kom die sproei en waterdamp.

Dan dink ek by myself nou weer:
Ek moet die plek gaan soek,
van diamante wat heeldag vloei
en by die see saamkoek.

Die see

Vleiend, strelend, jou ritmiese golwing,
spoel spelend uit, lek my voete nat.
Diep-blou en donkergroen lok jy my aan
om nader te kom en aan jou lyf te vat.

Jy kabbel en skuim ‘n ritme vir my,
hipnoties beweeg jy om my te sus…
Weerspieël die hemel asof jy dit is,
spog met sononder wat jou kom kus.

Maar is dit nie jy wat beend’re berg
in die onheilige dieptes van jou maag?
Is dit nie jy wat hulp’lose skepe
stukkend slaan en van koers af jaag?

Is dit nie jy, deur eeue bekend,
jy, die groot monster sonder hart?
Die een wat dreun en alles breek
En jou verlustig in ‘n drenk’ling se smart?

Ek bly waar ek is, en jy bly net daar,
laat jou verleiding maar soetsappig vloei.
Kom haal kan jy nie, want Groter as jy,
het jou grense getrek en jou vasgeboei!

Plattelander

‘n Plattelander
vasgevang
in ligte wat flikker
in ‘n straat soos ‘n slang.

Bekende gesigte
wat waai en wat groet,
is nou afwesig
maar bly in my bloed.

Die nuwe stad
is ‘n vreemde planeet;
hier deel niemand
jou lief en jou leed.

Die mense hier
kan nie groet of lag,
hanteer net wat voorkom
en leef dag tot dag.

Die vinnigste motors
wat die hardste kan ry,
en volgende kom
die lykstoet verby.

Waar het Afrikaners
die pad dan verloor?
die rus van die veld
en natuur wat bekoor?

Waar is hulle
wat die kleine bespeur,
wat ‘n mier kan volg
en sy doene waardeer?

Of boomgeraamtes
kan bekyk
as die maan kom oorneeem
en die daglig wyk?

Die sonbesie se skree
en die krieke se skril-
as ietsie net roer
is alles weer stil.

‘n Duisend diamante
op die golwe van die Vaal,
die swiep van die uile
wat aandete kom haal…

Ja, dis wat ek ken
en wat ek wil hê,
ek sal dit nooit afsweer
al sou wie ook so sê.

Want ‘n mens is natuur
en nie ‘n masjien,
en daar’s fout met jou siel
as jy dit nie kan sien!

Kewers

Onsigbaar swart uit vreemde oorde,
soos bose vlermuise –
het hulle gekom.

Bejaarde kameelbome,rotsvas gevestig
deurtonnel, deurboor, tot die knieë swik –
Hulle sending
is die dood.

In hulle skadu nòg vandale
gestuur na my moedertaal;
Swart gevleuel, skuilend in duister
bekruip en verniel soos rotte snags –
boor gate, laat doodbloei
nes hulle kamerade.

Kameeldoringboom, o Afrikaans,
rig op julle oë en kyk oor die veld…
die vyandspyle vlieg reeds deur die lug!

Vou jou arms oor jou boesem,
lig jou lans…
laat jou wesies
tog nie alleen!

Erfland

O, lieflingland van my jeug,
verniel, vervreem, afgeknou –
Wyd gestrek, verward lê jy,
land van oranje, blanje, blou…

Die knal van die sweep, die wawielknars,
die tongklap-fluister van kalbaspensling;
Die fluit van die wagter wat beeste oppas,
die kind-op-die-rug-ma wat loop en sing.

Skielik toe, was dit alles stil
en vreemde aksente het opgeklink;
Soldate-mars en uitlander bevel…
in die middagson het geweerloop geblink.

Maar agter die skerms sit ‘n man by sy kers,
met ‘n stuk papier en ‘n splitpunt-pen…
alleen, op sy eie, is hy ‘n oormag
wat weereens die stryd vir sy taal gaan wen!

Huistoe

Ai, ou Prins, getroue ou dier,
kan jy glo ons het gekom tot hier?
Deur die spervuur en vyandshaat –
ek en jy, my kameraad…

Ek weet nôi Rina wag by die hek
vir ons stoffie wat iewers uitslaan;
ons sal verskyn in silhoeët
in die lig van die helder maan.

Maar wat gaan ek sê vir Manie se vrou…
ou Manie wat vêr begrawe lê?
Ons bring net sy saal, sy hoed en sy pyp –
wat gaan ek sê jong, wat gaan ek sê?

Om tyding te bring
na jou buurman se werf,
is erger as om self
op die slagveld te sterf!

Spookdorp

Uitgediende baksteenmure
staar uit leë oogkaste
en pleisterbarste

oor onkruidoortrekte
en nou verlate
klipperige strate

misbruik en gemergel
van rykdom gestroop
en toe uitverkoop

verwaarloos nagelaat
het jou nut uitgeloop
nou bly net die ysterkliphoop…

Dagboek

Pa, ek skryf nou in my dagboek
want ek weet Pa kan dit lees:
Vandag was gladnie lekker nie,
dit was pa-en-seun dag gewees.

Die ander seuns het veld toe gegaan
en ek het in die koshuis gebly.
Toe ek sê my pa is in die hemel
het almal net gelag vir my…

Oupa

Oupa, ek sit al heeldag langs jou bed
en wag dat jy jou ogies oopmaak;
jy’t gister gesê vandag gaan ons visvang
tot al die aas en sinkers opraak!

Vanoggend vroeg, toe dit lig begin word,
nog voor iemand anders kon beweeg,
toe hardloop ek uit na jou riempiestoel –
maar toe kom ek daar en hy was leeg…

Nou sit almal hier rondom jou bed
en kyk hoe jy stil daar lê…
Oupa, is jy kwaad, hoekom slaap jy dan so?
Is daar iets wat jy dan wou hê?

Die pruimtwak het ek voor jou bed neergesit
en ‘n stukkie droëwors daarby –
ag praat tog net, Oupa, sê wat jy soek,
ek sal dit gou-gou gaan kry.

Gister se riempies wat ons gebrei het
het droog geword alreeds,
vannaand sou oupa my sweep leer vleg –
maar oupa slaap nogsteeds!

Oupa, waar gaan hulle nou heen met jou
die tyd van die nag?
Maar toemaar, Oupa, ek sal met my visstok
by jou riempiestoel gaan wag…

Sielerus

‘n Kosmos kombers wieg sag in die wind,
op naalddun beentjies golf hulle saam –
begroet die dou, die nuwe dag,
en die oggendbries wat oor hulle gaan.

Piet-my-vrou in gannabos
se oggendlied weerklink
oor gras en veld die verte in,
tot waar die son op rotse blink.

Bloukop koggelmanders
lê platpens op ‘n klip,
waar akkedissies flink en rats
deur piepklein splete glip.

Spikkelver draai windvalkies;
bespied die veld daar hoog –
versmelt met blou en vlieswolkies
teen die hemelboog.

Sielevrede heers alom
in soete melodie
van voëlgesang en goggaklank…
almal saam in harmonie.

Weeskinders

Die sluimersang van ‘n mielieboom
as die wind met sy blare speel,
waar die geur van die vars geploegde land
in die fees van die aand wil deel,

en die son gaan slaap met ‘n laaste gloed,
en sy skof aan die maan oorgee,
met sy kalme, sagte, liefdesgroet
gaan hy verliefdes nou geleentheid gee –

om hul diepste geheime met mekaar te deel,
te beleef wat liefde aan jou hart kan doen,
te ontdek hoe ryk jou lewe kan word
deur die kleinste goedjies soos ‘n drukkie of ‘n soen.

Dit ruk jou siel uit sy wentelbaan
en laat jou sterre verskiet,
om jou mee te sleur na die lewe se doel,
om mekaar net die beste te bied.

Maar die maan bring ook die hartseer en pyn
by díe wat by mekaar wil wees,
en verwyderd is deur die wêreld se juk,
en moet terugstaan en weeskinders wees.

Nonka

Soos ‘n kersvlam in die nag
hoog teen die berg,
flikker sy vuurtjie dof en ver –
die vuurtjie van die eensame dwerg.

Later vannag, as die sterre blink –
en eensaamheid kom… en die stilte hom smoor –
en die mense slaap – en die maan sit hoog –
sal jy die lied van sy ramkie hoor

waar hy stok-alleen teen die berghang sit,
met sy konka, karos en steekbaardhond
sy verlange uitspeel na die hemelboog,
die stem van ‘n siel, swaar verwond.

Hy vra vir die maan: Waar is my vrou?
En waar is my kinders wat by my voete moet slaap?
Hoekom het die koors hulle almal kom haal?
Hoekom het jy my alleen gelaat?

As die mis opstoot en hom oordek
en sy liggie kwyn bo teen die berg,
sal sy ramkie steeds sy leed uitkla…
die treurige lied van die eensame dwerg.

Skermutseling

My neusgate brand van buskruitrook
my elmboë al deurgeskuur
van kruip en val deur bos en klip
om te ontkom aan vyandsvuur.

Loodprojektiel kom van ver,
vreeswekkend vul hul fluit die oor;
elkeen op verwoestingsweg
om iemand te deurboor –

Dit klap en dreun en raas en stink,
die dood snel oor-en-weer,
klippe spat in my gesig…
dis nou net ék en my geweer.

My hart skop woes hier in my bors
as vrees my keel toe druk,
oor ‘n koeël wat met ‘n harde slag
‘n groot stuk uit my rugsak ruk!

Maar skielik kry ek nuwe krag
as woede my sterk maak:
MY VROU EN KIND EN OOK MY LAND
SAL JULLE NIE AAN RAAK!

Bokkie

ek het nie gesien hoe mooi jy is
of die smeking in jou oë
toe ek vol bravade deur die teleskoop kyk –

die vertroue in jou hart het my ontwyk
toe my vinger om die sneller krul;
weerloos teen die koël
jou laaste herkou
jòú lewe is die prys vir my eiewaan…
vir die klop op my skouer van ‘n vriend of twee

maar nou staan ek hier
jou oë flikker verwytend
my glimlag opgeplak
maar in my hart is dit seer-

na die veld kom ek nie weer
met staal in my hand
‘n verkyker en kamera
sal my wapen nou wees

Oggendstond

Die oggend breek stadig,
die nag gooi kombers af,
met ‘n laaste naggeluid
iewers van ver af.

‘n Dakmossie begin
die oggend se koor-
Nog ander val in,
en houtkapper vat voor.

Hy ken net twee note,
maar dit maak nie saak,
hy help steeds luidrugtig
om die dag te ontwaak!

Sommiges tjirp
en ander kloek,
hulle maak nou gereed
om ontbyt te gaan soek.

Onsamehangend,
onafgerig,
sing een uit ‘n boom
en ‘n ander in vlug.

Die apies swaai rond,
dit krap en dit grou!
Die dag het gebreek,
die lug is weer blou!

Skemering

Oumansprofiel teen halfmaan geëts,
deur kunstige hande vir ons geskets.
Diep versonke in mymering
bewonder ek die skemering.

Maandiamante gestrooi oor die Vaal,
wat diepste bewond’ring uit menswees kom haal.
Ouman van Bosdraai is honderd jaar oud;
wat hy wil vertel is werd meer as goud,

maar swye gelê is hy net ‘n boom;
bekyk sy ou knoetse en hy sal nie skroom
om jou te vertel van dae lank gelee,
van liefde en haat, van oorlog en vree.

Tortelduif

Geboë ruggie, treetjie-vir-treetjie
koer-krrr, koer-krrr, koer-krrr
stap jy agter mamma aan,
koer-krrr, koer-krrr, koer-krrr…

maar rustig gaan sy dan net voort
terwyl jy pronk en praal –
as jy nog dalk haar liefde soek
moet jy eers betaal!

…en dan besluit sy plotseling
sy sal haar hart ontvou;
plat op haar magie gaan lê sy dan…
“My duifie-man, eks lief vir jou!”

Maan

Kleinsus van ons bloubal-hawe
jou gesiggie is al aknee-geskend
deur rotse en klippe uit die vêr-vêr niks

wat met felle snel uit die niet verskyn
en jou barbaars net tref – sommer net tref!
wyl jy waghou en kyk, vir ouboet oppas

en jou hart vir hom bloei
want jy sien hoe hy sterf –
Wat gaan dan word van jou

as sy blou verkleur na swart
en sy wit wolke word rooi
en jy alleen oorbly?

My hoekie

Agter in die erf, vér agter in die hoek,
in die skemerskadu van die kweperboom,
is my plekkie van dink en rus,
my plekkie van rustig droom.

Al my geheimpies bêre ek daar,
veilig bewaar tot ek weer kom –
Onder voëltjies wat kwetter en duiwe wat koer,
en pragtige stokroos wat bloedrooi blom.

Ek herleef die verlede oor en oor,
dít wat verby is en in my hart nog leef.
Van my eerste liefde vir my eerste nooi,
tot die oumensdae wat ek nou beleef.

Soms wonder ek of is dit maar so
dat mens op my jare ‘n plekkie loop kry,
om die pad wat lank was, wéér te kan loop,
oor jy weet die mooityd is nou verby?

Tulpekelk

Wie doop Sy kwas nog elke aand
in oranje, geel en rooi,
om westerkim vir mensekind
met kleure op te tooi?

Wie trek ‘n tulp se kelkeblom
uit ‘n stingel swak en dun?
Miskien wil Hy vir my net sê:
“My kind, jy moet besin –

Ek ken jou swakheid, onvermoë,
jy’s ‘n stingeltjie vaal verwelk;
maar Ek is Heer, onthou dit net,
uit jòú trek ek ‘n blommekelk!”

Roosknoppie

Versigtig loer jy uit groen kokon
vir die lewe wat buite wag-
dan waag jy dit en kruip jy uit
en begroet die nuwe dag.

Jou helderrooi onderrokkies vou jy oop
en drink die sonlig in…
sprei hulle oper, wys nog meer,
jou trotse vertoon het pas begin.

Met kleureprag en rosegeur
vul jy die lug vir als om jou;
Jy op jou eie, bloedrooi roos,
is ‘n ogefees, ‘n blommeskou!

My deurmekaar haartjies

Dit was al laat die oggend
toe sy buite sit en speel.
Haar deurmekaar haartjies
kon haar gladnie skeel.

“Katryntjie,” het ek geroep,
“kom Mamma trek jou gou aan-
jou haartjies is nog deurmekaar
en die mense kyk jou aan!”

Onskuldig het sy voor my kom staan
met ‘n sweempie ongeduld:
“Mamma, gister was hulle mooi gewees,
dis alles die engeltjies se skuld!”

Verbaas het ek na haar gekyk,
ek sou so graag wou weet;
wat het hierdie kleine koppie
nou alweer tog beet?

“My kind, vertel vir mamma ook
waarvan jy nou praat,
want so ‘n deurmekaar boskaas
kan ons mos nie so laat?

Met handjies in die sye
en skrefies-ogies by,
kom staan sy kamma heel verstom
hier reg voor teenoor my:

“Mamma, gister was ek saam met jou
vroegoggend in die kerk,
onthou jy nie die preek nie?
dis die engeltjies se werk!”

“Geen haar van jou hoof sal verlore gaan”
het Dominee gelees.
(Dit was die hele tema
van die preek gewees).

“Mamma sien, ek het geslaap,
maar een ding weet ek wel;
terwyl ek ver in droomland was
het die engeltjies my hare kom tel…”

Meisie

Soos planete in ‘n wentelbaan
draai my gedagtes gedurig om jou;
jy is die aarde en ek is die maan,
dis die krag van jou liefde wat my naby jou hou.

Soos ‘n vulkaan bars ek oop as jy naby my kom,
soos lawa vloei die liefde uit my…
om jou hart te oorstroom, jou siel te verdrink –
mag dit vir ewig vir ons twee so bly!

Piet se brak

Ai tog, die arme Piet,
‘n rustige man is hy gewis –
maar daar is ‘n groot probleem
wat op ou Piet se skouers rus…

Jy ken mos vir Marie (dis nou sy vrou)
sy’t geen geloof in ou Piet se brak!
Soos sy beduie – en ek kan getuig,
is die ding se afkoms baie swak.

Ek hoor toe mos so òòr die eet
(ou Marie was nou mooi op dreef)
die arme dier lyk glo so sleg,
hy’s nageslag van al’s wat leef!

Boerboel, pointer, brandsiek brak,
steekbaard, varkhond, elke ding –
het in sy vorige geslag
elkeen glo sy kant gebring!

Die Boeing se skuld…

Ou Noag my vriend,

ek verstaan jou probleem

met al die mooi druiwe

rondom jou heen.

Die werk was gedoen,

die wyn was gereed,

maar iewers het iemand

‘n groot ding vergeet.

Die son was so warm

en jy was so dors-

en so baie rooiwyn

kan ‘n mens tog nie mors?

Jy’t gewag vir die Boeing

wat net nie wou kom,

en in die wingerd

het die oes weer geblom.

Jy los toe die Boeing

en besluit op ‘n duif,

en toe hy oorkom

toe toets jy die druif,

maar jy was al agter

met ‘n rondte of tien,

en dit was net daar

dat jy jou dinges toe sien.

My Forkie

Hai my mens, lat ek jou vitel

vannie Forkie wat ek virre appel enne ei opgetel het –

Jy sien, hys biekie oud,

van nog vorie modelle pegin het,

maar ‘n vooros in murg en been!

So trek ek mos die annerdag weg

by die DIY SUPERSTORE

en dit sous lat die water loop!

Die Forkie willie draai nie

maar ek kom reg,

hy bly net grou mettie voorpote oppie pad!

Nou stop ek by die roubord

en ek trek weer weg,

ma die Forkie staan en dans en draai…

die anne mense raas met my

wantie Forkie het dwars gedraai!

Die ou wat betel kom praat met my,

maar ek kyk weg want ek dink hy soek geld;

toe sê hy: “Meneer, jou handbriek is vas,

wantie agterwiele kommie samie!

Raadsplan

Klein en broos het sy daar gelê
my liefste baba, my eerste kind.
Starend, nikssiende na die dak,
want haar ogies was albei blind.

Soms het ek na buite gestorm,
weggevlug van my huis –
“Here, wat het ek dan gedoen?
Hoekom gee U haar so ‘n kruis?

Hier is ek Here, die straf kom my toe!
vir my sondes dra ek self die vloek”
Maar steeds elke dag moes ek aanskou
hoe sy voelend na haar bottel soek.

En die tyd het geloop
ek het later aanvaar
en my sagte plekkie
het behoort net aan haar.

In die kerkkoor en in die skool
het sy begin blom:
Haar vingers oor die klawers
het ons almal verstom.

As sy voor die klavier haar plek inneem
en haar soepel hande oor die klawers gly
het sy Jesus geloof met musiek en sang,
want die stem van ‘n engel het sy gekry.

Nou in my jare het ek ouma geword
maar die wasem het later my oë ook gedoof.
Ek haak by haar in en ons loop en lag
as sy my iets moois in die winkels beloof

“Here vergewe, U het beter geweet
om die pad na vore vir my te berei
haar blinde ogies het die pad verken
sodat sy vir my vandag kan lei.”

Tuisdorp

Klingel-klang, klingel-klang, af in die straat-
leë blikke, papiere en gras;
Flenter ruite en leë geboue,
‘n groot hartseer gryp my vas

waar ek deur die venster staar
oor die hoofstraat van die plek waar ek bly…
Ek sien hom doodbloei, stadig en seer,
want die goudmyn het sy polse gesny.

My eerste asem het hy my gegee,
die eerste lig het ek hier aanskou-
Maar nou moet ek gaan, hy kan my nie dra,
want sy rug is geknak en sy pols is flou!

Neem my saam…

Wyl ek teruglê, kop agteroor, gedagtes dwalend –
ek ruik jou parfuum; duur, sag, beswymend…
Kom sprinkel jou roosmaryn, laat dit sypel tot in my siel,
kom red my gedagtes, twyfelend, kwynend –

Voer my weg na ‘n hemelse sfeer
waar menswees net uit liefde bestaan…
waar jou sag-warm aanraking die hede is
en sorge hul eie gang gaan.

Lig my op jou vlerke en sprei hulle wyd
na waar die son rooi verdrink –
Sak met my weg deur die newels
tot by die maan se silwer-blink.

Sweef met my deur die sterre
in die melkweg se sproei
tot daar waar tyd afsny
en lelies van Eden melkwit bloei.

Ek dink maar net…

Wíe van u kan nog onthou
toe ons in die laerskool was?
Toe jy aand vir aand met jou bloemlesing kon sit
om die juffrou te verras?

Een blaai was skoon en die volgende met lyne,
met BLOEMLESING voorin, wat oorskuins die hoeke raak.
Getooi met vele blaartjies en blomme
om jou mooiste boek nog mooier te maak.

En dan volg die indeks met Eugene Marais,
Jan F. Cilliers en D.J. Opperman,
Elisabeth Eybers en A.G. Visser,
tot Boerneef se gedig van Karel Kraan.

Dààr was die saadjie in ons geslag geplant,
die digters van die toekoms alreeds geskoei-
Die trots van ons òu meesters was ingeskerp,
maar wie sal hom vandag weer daarmee bemoei?

Ek dink nou maar aan Japie Greyling,
Jopie Fourie en Racheltjie de Beer-
As ék dit nie doen nie, wíe sal my kind
die trots van die Afrikaner vandag nog leer?

Wie sal daar wees?

Hoeveel siele sal my vereer
met laaste teenwoordigheid?
Hoeveel mense by my graf kom treur
en my kom afsien vir ewigheid?

Hoeveel se smarte
het ek ligter gemaak?
En hoeveel se harte
het ek aangeraak?

Miskien wys betekenis
van aardse bestaan
in die getal van geliefdes
wat òm jou graf sal staan.

Belydenis

Omvou my gees, vermink deur kastyding,
gaan doop dit vir my in die stroom van bevryding –
Neem tog ook saam, die skerwe van my hart,
fyn geplunder deur sonde en smart.

Maak vas my voete wat die weg verlaat het
en bring na my, wie my gehaat het –
sodat my tong, wat soos ‘n swaard kon sny
sy skuld in opregtheid kan bely.

En my hande, wat slinks was ongesiens,
berei hulle voor vir eerbare diens;
maar dan, as dit klaar is, my laaste wens –
voeg dit weer saam en skep ‘n nuwe mens!

Laaste gedagtes

Skadu gestaltes beweeg teen die mure
met gebluste kalk gewit…
My oë dwaal dof oor familielede
wat geboë rondom my katel sit.

As hulle praat, fluister hulle sag
asof my nie in doodstryd te steur,
met samekoms hier om my byeen,
om my met laaste teenwoordigheid te eer.

Ek is nou moeg en ek wil nou gaan,
maar gelukkig kan hulle my gedagtes nie lees –
want ek wonder nou maar, wie van ons almal
gaan aan die anderkant bymekaar weer wees?