Jou mondhoeke is styf gespan
in hoë vioolsnaarfrekwensie
as jy jou romp skaamteloos tot
hoog bokant jou knieë optel

jou oë praat nie saam in altviool
as jy jou bloese van jou lyfie afskil
en jou borste-in-duet pronkend
in staccato-note vertoon nie

jou stem is donker en laag as jy
saam met die uitgerekte huil van die tjello
kla oor die dieptes van jou ellende,
die donker poele waarin jy verdrink

maar soms breek jou sonlag soos pizzicato ?
deur die swaar basviooltimbre, en luister ek
met ‘n glimlag hoe jy opgewonde babbel
oor die nou en die lekker van die lewe

maar ons weet albei dié bewegings
gly soos onvoltooide simfonieë verby
as jy die lemmetjie (weer)
in jou voorarms sny…