spieëlgladde stiltes

groei groen geel en spikkelvaal
om elke gras en blaartjie vou
die vrede en versink
‘n eerste sondag sonder sonde


soms

kan dit gebeur dat ek op ‘n dag deur die tralies kyk
(dis moeilik om jou op te hys tot op die vlak)
dan sien ek begogeld wêrelde wat voor my oopvou
in goudgeel beddings groen en helder sonneblomoranje
(vlekkies vaal wip tussen die geel)
skares luiwit wolke wat uitgestrek in baaiende sonlig
beleefd-geïntresseerd afkyk mense wat soos somdele van hulself
losgemaak van die dreigend-formidabele gehele
hul laggende gesigte liefderyk draai
dan sien ek wuiwende vaalgroen in die verte
kleingespikkelde rooi
en die god wat alles moontlik maak
maar dis net soms want dié vervlietende gesigte
kom ongelukkig veels te min om ‘n langdurige effek te hê
en tussen die vasgekeerde grys skakerings
van houtskool eierdop en kalmerende aqua
die bitter mure van my menswees
versink ek telkens weer


my kind

met die maat waarmee ek jou leer meet het
het jy my gemeet


by hierdie afskeid

Here gee my woorde want kyk
uit hierdie grond het ek ontstaan
soos saad gevoed deur son en reën
en tussendeur groei en blom en u genade
nou reën dit weer en die genade word steeds meer ek weet
maar my hart skeur los en bloei oor die veld en vree
kyk Here selfs my hande huil
maar my woorde Here
my woorde stil stomp


breuk

ek was lief vir dit wat ek van jou geken het
die afkyk van jou oë jou reeds-deurdinkte woorde
die wit oopbreek van jou lag en die kromming van jou hande
wanneer hul digterlik om my klein borste vou

jy het my grootgemaak
met jou lippe en jou oë jou hande en jou stem
my hande huil oor jou my hele wese rou oor jou
want elke deel van jou het so perfek
só perfek gepas in my


nou soos toe

met jou lewe vormend om myne in jou jong liggaam
koester jy my steeds in jou siel asof ek ‘n pêrel is
nou soos toe jou hare koper in die son
wys jy my die lewe sorgvuldig soos toe ‘n blom
toe was ek te mín te veel onbegrypend kind
maar nou wil ek vir jou die vader weet meer
veel meer as net erkenning gee ek wil vir jou
alles gee en alles wees soos jy vir my was al die jare deur
maar in my onbeholpenheid bly ek altyd onvolwasse
steeds ontoereikend ek vermoed dat dit altyd
die geval sal wees tussen my en jou Ma
vergewe my vergewe my
ek is net ‘n kind


winter

‘n stildonker more en mis spookvinger grypend
ek warm uit die spoelende sonskynstondes voel
‘n koue wete klemmend in my binneruim
bekende droom


sondagmiddag

in stadsgewoel lê ek gewek en luister na die roomyswa
tog vreemd die speelse deuntjie is vir harde broodbestaan
die eerste man kind-aan-hand-en-hond bestel verwaand
grinnik spots onder die kind se stille blik voel tog gevoetstuk
die twee in pienk geperoxide en geperm giggel speels
blom onder ‘n goedkoop staar
amper te laat die volgroeide verskoning
kind-man in te klein grasgroen shorts
mik huiwer vra tog die prys versigtig yl
koop en draai dan ferm fier
klein oorwinning


ek skryf hierdie aan jou

om jou te sê dat ek gister jou brief gekry het in die pos
en tussen die reëls en gedagtes die letters van jou woorde
was daar iets oop kwesbaar en bang
en ek wou net vir jou sê dat ek jammer is
ek is nie so goed met woorde nie maar ek verstaan
xx
ps kan ek asseblief jou ou rugbytrui kry want
ek wil graag iets van jou hê om in te slaap