Ek lê hier in die son
op my verjaarsdag, my lief,
en droom van jou

die boeie vergete,
die vernedering…
die seer, onverwagse houe

die stink asems, snags
vreemde musiek
wat dreun in my ore

ek ruik die veld
die son
die reën
en ek onthou…
ek onthou…
ek onthou, my lief…

die klik van ‘n R-4
vloeke skellend in blou:
“t’rug innie boei met jou!”

ek wonder maar net, my lief,
wie, ja, wié het my
en my Boeremaat verraai?