Rusteloos, onder die kiel van die Drommedaris
sypel bleekskuim uit die trankiele see, ‘n suggererende
seesloerie vol stimulus, oorhoekslekkend
oor die stom strandloper se leë spoor

van vlet tot vleuel sidder die boeg krakend
onder die krag van die hoererende see,
gekniehalter met anker in die donker dieptes
wat bietjies-bietjies toelaat sonder om alles prys te gee

dagbreekillusie, grouligsuspisie
verdwyn wanneer die son glimmend
sy baan weg oor die immer rustelose
baster Indies-Atlantiese gouegolwe-see

die seilskip-driemanskap vol skeurbuik
en kwasjiorkor word koorsig, naarstig agtergelaat,
roei kliphard bultende spier met mening
na die ongerepte, onbekende oorryp-winkend maagd

al groterwordend konstellasie, vervorm
die donker moederberg, knoetsig geboetseer
deur ‘n kundig Meesterhand, en toon haar knus
voet- en nekholtes wat uitnodigend, lokkend nooi

oplaas verdwyn haar sagte miskombers
en toon sy guitig blinkend haar naakte skouers,
afwagtend op die hygend, beurend, ongetemde drif
waarna sy verlangend uitsien in eeue-oue sug

vol hartstog bestyg besete voeteval in dolle vaart
haar gebreekte fynbosplato en eindig sweetnat,
in stollende hyg, heelbo, en verjaag so daarmee
die honger jammerklag van maande se onseker vaart

tot ruste kom die gekwinkeleerde angs
onder koel, beskermde arendskrans
verkneg deur ‘n 1652-hyg
vir ewig en altyd – Tafelberg.