‘n Simboliese sieraad
troon grotesk omhoog,
smelt vergete horisonne
in sierlike boog

simptome van gister se oorlog
en more se gewete
en doen dit quod erat
faciendum, verbete
met bindende krag word oogmerk
en doel in struktuur betrek,
lê bestemde baken lepel
met riviersand en stadsbetondrek

vorm ‘n holisties denkbeeldige,
dog sigbare geheel, wat meer
vertel van ‘n stad se voortbestaan
as net ‘n enkel onderdeel
gefabriseerde Westerse staaltjies
van oorlog word tot waarheid omvou,
afgryslike verhale in sement kunstig
deur argitek vir ewig ingebou

verkreukelde sirsakarlap waaronder
helderrooi bloed stadig lek,
bomverskroeide, bewende hande,
wat angs in wydgesperde oë bedek

maar herinneringe sypel stadig
deur die vergetelheid van Lethe,
breek geleidelik deur die newels
van pyn, lyding en gewete

‘n kunswerk van hamer en beitel
soos krale in ‘n ketting saamgeflans
vul verdwene leegheid met kleursmeringe
in verruklike skoonheidsglans

‘n warrelwind nestel teen die koele
gladheid van die kunstige Obelisk-lyn,
spiraalwaai ‘n volk se verbittering,
verbystering, afkeer en pyn

dit koester en troos die ondraaglike
weemoed oor ‘n verlore stryd,
weg waai sanderige, stowwerige wind,
laaste oorblyfsels en oorlogsnyd

die waarde van die Obelisk lê
in meer as net vergange moraal,
dit beur op, voortstuwend teen
die onbeplande, onmenslike verval

die vinger na bo bind ou verpletterde
geskiedenis en gebroke menswees
tot hegte, vreedsaam eenheid,
nuutgebore sorgvry gees.