Spelend in onskuld
jaag sy skoenlappers rond
dan, skielik is hy daar
die gestalte in hemp vrolik bont

winkend roep hy
gesels-gesels
beduie-beduie
al verder van die huis

twee koue roomyse
smelt druppend op die grond
spoeg loop vir oulaas
soet deur haar mond

beduie-beduie
gesels-gesels
dit word laat en sy moet,
sy wíl, huistoe gaan

sy skop en skree, word vasgebind
niemand om haar trane te sien
só pikdonker voor haar oë
sy kan haar bangwees hoor

sielalleen
hulle is nie meer twee
later droog haar beendere
stom in die wind