Deur Caledon se grenspos
verby Leriba se gemors
ry ‘n ou man op sy donkie
onrustig in sy tog

hoog uit die Maluti’s
hoor hy tromme waarsku:
“die pad na baie water,
bring onheil vir die volk”

die Ramethokgo skuld sy peul-
en beenarmbande in die wind
blaas belus dog ingetoom
sy wanhoopsvuurtjie aan

die medisynevrou se stem
fluister saggies in die wind:
“pasop, sê ek vir julle,
pasop vir die slang wat kom!”

twee skaapwagters vou sku
hul komberse teen die wind
loop vér verby die nuwe water
vermy vars hopies op die grond

langs die kronkelteerpad
speel klonkies bakhand rond
die pagan bring die rande
wie gee vir tokkelossie om?

voor sy ronde grasdakhut
word ‘n vuurtjie aangeslaan
die ou man gooi sy dolosse –
langs hom blaf sy hond