Moenie skaam wees nie,
my lief, dat vreemdes ons
armoede in jou foto’s
raaksien nie

Laat hulle klets oor die guurheid
van ons Madagaskar-huisies
hulle neuse optrek vir die gietreuk
wat aan ons manne klou

laat hulle wonder oor die gebarste
hande van ons vorstelike vroue
agter bakhand en met groot oë
ons kaalgatkinders beskinder

hou jou rug regop, my lief,
trek jou mooi skouers terug,
lig jou ken en kyk hulle
vierkantig in die oë

want ons woon in kompasse van klei
wat nie lek nie as dit reën
ons mae is vol van die kos en kandeel
wat ons ouers biddend oor ons seën

ons is gelukkig om saans
bloot net bymekaar te wees –
hulle kom tog elke jaar terug
net soos Uccello, die voël,

om hier te kom afsaal en rus
in die skadu’s van ons bome
en ons kleurryk geweefde lap
om hulle dik lywe te hang

om te eet aan die kanasterkreef
wat ons vaders vir hulle vang
en te luister na ons jonges
se volksmusiek en sang

moenie skaam wees nie, my lief,
bring die lig met jou lens
gee aan hulle drie-dimensionele
optiese perspektief