Eendag, lank lank gelede,
het ‘n heuningwyser jou siel,
een donderstorm, hoog bokant
die stratocumulus in stukke opgetel

“en ek, ek is Windgat de Klerk”
het jou woorde soos
sultanadruiwe, stukkend,
oor jou lippe gebars

‘n bitter Avondmaal onder dowwe sterre
en terwyl jy jou droefheid beklaag het,
het die heuningwyser jou voorkop
met nardussalf uit sy albaste fles gelawe

jou trane met sy vere afgedroog,
jou sirokkowarm voorhoof
met sy vlerke koel gewaai
en jy het, heel, en sonder om te groet,

die voordag tegemoet gegaan,
want jy het ‘n aanklank kon vind,
al ken jy, tot vandag toe,
nie eens die heuningwyser se naam nie…