Behaaglik krul sewe jaartjies

parmantig oor benerige skouertjies

lek-lek aan skurwe wangetjies

sekuur-ondersoekend jou wakker ogies

forsend op “rekenaar-mechanics” gepupil

halfmaanorent jou haardos soggens

weerloos wykend voor die waterstroom

My masjiengeweerstem dawer luid

giet haastig jou bedremmelde lyfie

lomp in oorgroot skooluniform

genadeloos knetter lastige oggendtakies

in verwoede oorlogtaal…

Afwesig-starend drup jy

post toasties oor pienk porselein

smiddae ontvou die stryd fel:

skolier versus alles-weet-ma

woorde, uitveërs en potlode kring

uitdagend om winkende buitegeheime

Seuntjiekaperjolle, rugbydrops en balskop

modderkeerwalle, kombershuisies en rolskaatsry

Watter donker dieptes van seuntjiewees

dien bloeiende ledemate, oopgestampte tone

vir my op as grillige rantsoenmaal?

Vandag salueer ek jou, my seuntjie,

omdat jou hart diep

onder die harde kors

warm vir jou moeder pols.