Ek is die vrees wat soggens saam jou opstaan,
jou agtervolg –
in jou hart tamboer
en elke sekonde naderkruip…

Saam met die ouvrou met die uit tand
wat karre oppas
in wind en weer en reën
en elke Maandag
haar daaglikse brood afstaan
om af te sukkel na die kliniek
vir ‘n nuwe “panado”, wat vir alle skete moet help

Ek is die vrees wat deur die dag al dieper nestel,
wanneer ‘n jong seun om ‘n stompie smeek
terwyl sy melkbaard plek, plek deurslaan
en jy wonder hoe hy óóit vir ‘n nageslag kan sorg.

Die angs in jou oë –
wanneer jy na die poskantoor stoep kyk
en die oorblyfsels van gisteraand se motel gewaar…

Ek is die vrees wat jou vanaand na jou verebed volg,
jou teister en pla;
jou drome versteur en jou asem laat jaag
en jou laat wonder –
of jy nog môre jy gaan wees.